History

DIE PRIMêRE SKOOL DE VILLIERS GRAAFF (1872)
(LAERSKOOL DE VILLIERS GRAAFF) 

Op versoek van veldkornet PH de Villiers, grootvader van die latere Sir  David en Sir Jacobus Graaff, in 1843 aan die koloniale sekretaris van die Kaap, is n skool in die plaaslike Engelse kerk in 1855 deur Mnr Little gestig.    

Weens die onaanvaarbaarheid van die karakter en gees wat deur hierdie  skooltjie vertolk is, is n opposisie-skool in 1871 deur die Hollanders gestig, wat in 1872 amptelik as n Derdeklas Goewermentskool erken is.  Mnr DS Botha, die eerste skoolhoof, het aanvanklik sy sewentien leerlinge in die konsistoriekamer van die N G Kerk onderrig, vervolgens in die   waenhuis van “Oude Huis” en daarna in 1876 in die skooltjie langsaan die koshuis “Pomona”.    

Na sy bedanking in 1879, is Mnr Botha opgevolg deur mnre SJ Celliers,  WP Fouche en JF Zeeman.  Laasgenoemde was dan ook verantwoordelik  vir die sukses van die eerste twee kandidate in die junior matriek- eksamen in 1903.  Weens die stygende getalle het die skool in 1894 verhuis na die CJV - saal (Vlermuissaal).  

In 1904, onder hoofskap van mnr HC de Wet, het die eerste leerlinge die   Matrikulasie-eksamen geskryf.  

As gevolg van die kragdadige optrede van Ds EG Malherbe en die nuwe hoof mnr JH Pienaar (1905), is “Graaffsaal” en die “De Villiers Graaff Instituut” opgerig. Die hoeksteenlegging is op 7 Mei 1907 deur mnr JH Hofmeyer (Onse Jan) waargeneem.  Aan die 190 leerlinge en 7 leerkragte was sy kernagtige boodskap:”AANHOUER WEN!”  

In 1908 is mnr AJ Lambrechts as hoof aangestel en as vise-hoof mnr F de Lange. Op laasgenoemde se aandrang is n aanhaling uit die ordes van Horatius – DOCTRINA VIM PROMOVET INSITAM – tot skoolleuse gekies.  

Onder mnr Lambrechts se hoofskap is die swembad in 1914 in gebruik   geneem (geskenk van Sir David Graaff), “Protea, tans “Malherbehuis”   ingewy en is die wetenskapgebou in 1919 voltooi en is die skool tot Hoërskool verhef in 1914. Ook is in 1919 “Rose Villa” in gebruik geneem  as n koshuis vir minderbevoorregte leerlinge. Uit hierdie koshuis het die huidige “Huis Du Raan” gegroei.          

Op betreklike jeugdige ouderdom het mnr AM de Villiers in 1920 hoof geword van die Hoërskool  wat as gevolg van sy ywer en deursettings-  vermoë gegroei het tot die Hoërskool Spesiale Graad in 1945. Daar  was vele hoogtepunte in hierdie tydperk:  

Al die Graaff skenkings; in gebruikneming van “Spes Bona” (1928) en “Jalna” (1936) (Huis De Villiers) as koshuise;   in 1926 was daar vanaf Substanderds A tot St 10 nie een druipeling nie (400 leerlinge), n prestasie wat nog nooit weer herhaal is nie.  In 1943 is die kleinkinderskool met drie klaskamers  opgerig en in 1946 vergroot om die hele primêre afdeling te huisves. Op 1 Julie 1947 het die skool verdeel in die huidige Hoër en Primêre Skole.    

Mnr JA de Lange is aangestel as die eerste skoolhoof van die Primêre Skool De Villiers Graaff, n pos wat hy beklee het tot met sy aftrede einde 1961. Gedurende hierdie tyd het hy kragdadig sy geestes gawes aan die belange van die onderwys bestee en hom veral beywer vir die eer van die professie. Die liefde vir die kind het daartoe bygedra dat op sy grafsteen slegs die woord : KINDERVRIEND pryk.  

Hy is in 1962 opgevolg deur mnr JP Venter wat einde van dieselfde jaar weer vertrek het. Hy is weer opgevolg deur mnr PWS de Beer wat op 30 Junie 1981 met pensioen uit die diens getree het.  

In Oktober 1981 volg mnr APF Baard mnr De Beer op as die vierde hoof van Laerskool De Villiers Graaff, n posisie wat hy beklee het tot Junie 1996.  Vanaf Oktober 1996 neem mnr DH Victor die leisels oor by mnr Baard. Op 30 Junie 2006  bedank  mnr Victor as skoolhoof by Laerskool De Villiers Graaff. Hy is opgevolg deur mnr JF Bruwer.  

In 1872 was daar slegs 17 leerlinge en 1 onderwyser en in 1947 agt leerkragte met 270 leerlinge. Tydens die Eeufeesvieringe in 1972 was die statistiek: 18 onderwysers met 400 leerlinge.  Weens die sluiting van die privaat koshuis, “Huis De Villiers”, het die skool se getalle in 1979 gedaal tot 350.  

Sedert die Eeufeesvieringe in 1972 het baie veranderinge in en om die Skool plaasgevind.  

Die Skool beskik oor n baie goed toegeruste rekenaarsentrum, n uitstekende Tegnologielokaal, n Saal, n Biblioteek, Laboratorium, Kunsklas en musiekklasse.  

Op 10 September 1983 is die sportgronde ingewy en word dit as Akkedispark gedoop.